| Meesterjagterkursus hier!
Die CHASA kursus vir senior jagopleiding, of die sogenaamde “blou boek”, is reeds dekades lank gewild onder jagters wat hulself wil bekwaam in die jagomgewing. Baie jagters dra met trots die luiperdkop-embleem op hulle jaghemde om hierdie onderskeiding te toon. Die Theta-eenheidstandaard vir Toegewyde Jagter-opleiding is dan ook gebaseer op hierdie kursus en dek rofweg sewentig persent van die inhoud van die “blou boek”. Tans is letterlik duisende voornemende Toegewyde Jagters besig om die kursus te deurloop. ‘n Behoefte ontstaan nou aan gevorderde jagopleiding op ‘n veel hoër vlak. ‘n Kursus wat in gehalte gelyk aan, of selfs meer gevorderd sal wees, as die beroepsjag-kursus, maar wat spesifiek gemik sal wees op die jagter wat vir homself jag, en nie noodwendig bemark en begelei nie. Die idee is dat die dertig persent wat uit die “blou boek” wegval, gekombineer sal word met gevorderde leeraktiwiteite wat in ‘n praktiese omgewing aangebied sal word. Verskeie CHASA lidverenigings het reeds ver gevorder met werk hieraan. Dit word eersdaags gekonsolideer met die doel om ‘n eenvormige nasionale standaard vas te lê. Gesoute jagters kan solank hulle jagsakke pak. |