SA Jagters by CHASA Intervereniging skietkompetisie

‘n Jaarlikse instelling, die CHASA intervereniging skietdag vind op Saterdag 19 Maart plaas by die Gariepdam. Dit is lekker sentraal geleë en dus ideaal vir manne (en vroue) wat per motorvervoer daar moet uitkom. Hierbenewens is verblyf by die oord baie billik geprys en die omgewing se ekologie leen hom tot die opstel van ‘n opwindende baan wat jagtoestande en posisies simuleer. Die skietkompetisie word aangebied deur die SA Jaggeweerskietvereniging, ‘n lidvereniging van CHASA, en word gereël deur voorsitter Willem Botha.

‘n Opwindende verwikkeling vir georganiseerde jag in Suid-Afrika is dat die SA Jagtersvereniging ‘n aanbod aanvaar het om ook aan die kompetisie deel te neem. Die goeie verhoudings wat op bestuursvlak tussen CHASA en SA Jagters gebou is, word nou afgewentel na grond vlak. Benewens die kompetisie tussen CHASA lidverenigings, sal daar ook ‘n ope afdeling wees waar CHASA verenigings en SA Jagters mekaar die stryd sal aansê. Die wenspan hier sal dus werklik kan aanspraak maak daarop om die beste in die land te wees. Aanduidings is dat die vriendelike saamkuier eers ná die laaste skoot sal begin.

Die kompetisie word beslis oor 30 skote en afstande van 30m tot 300m. Teikens is lewensgrootte bokke in volkleur en 200mm valplate. Een honderd en twintig deelnemers is ingeskryf.