|
|
TOEGEWYDE STATUS - VIR JAGTERS
Jagters wat vir ‘n vyfde (of meer) wapen aansoek doen, benodig benewens die Poslec vaardigheidsopleiding en ‘n SAPD bevoegdheidsertifikaat ook status as Toegewyde Jagter. Hierdie status word nie deur die SAPD uitgereik nie, maar deur ‘n geakkrediteerde jagtersvereniging. Daar is tans vyftien jagterverenigings met geakkrediteerde status. SA Jagtersvereniging en SA Wingshooters is direk geakkrediteerd. Die dertien CHASA lidverenigings het hierdie status via ‘n sambreel akkreditasie van CHASA. Hulle is: Amatola Hunters, Border Hunting Club, Bosveld Jagters, Hoëveld Jagters, Kaapse Jagters, Kalahari Jagters, Noord-Kaap Jagters, Noordwes Jagters, Suid-Kaap Jagters, Vrystaat Jagters, Kwa-Zulu Natal Jagters, Eastern Cape Game Management en Laeveld Jagtersvereniging,. Hierbenewens het laasgenoemde drie lidverenigings ook geakkrediteerde status in eie reg bekom. Toegewyde Jagter-status sal aan lede die reg verleen om aansoek te doen vir lisensieëring van meer as vier vuurwapens, om aansoek te doen vir lisensieëring van ‘n semi-outomatiese geweer of haelgeweer (solank die haelgeweer nie meer as vyf skote agtereenvolgens kan afvuur nie), om aansoek te doen om meer as 200 rondtes ammunisie per kaliber in besit te hê en verder die reg aan ‘n onmondige persoon verleen om vir ‘n vuurwapenlisensie aansoek te doen. Die wet bepaal die kriteria waaraan die lid moet voldoen om te kwalifiseer
vir Toegewyde Jagter-status. Aan die einde van 2004 is sekere toegewings
ten opsigte van hierdie kriteria deur die Registrateur gemaak en Toegewyde
Jagter-status is hiervolgens aan ‘n paar duisend jagters verleen.
Vanaf Januarie 2005 is die kriteria wat van toepassing is die volgende: Volgens wet moet die jagkursus voldoen aan die vereistes van die ‘South African Qualifications Authority’ wetgewing. Hiervolgens word die kursus deel van die loopbaanroete van ‘n beroepsjagter en word dit ook ‘n voorvereiste vir toelating tot die beroepsjagkursus. Die SETA wat jagopleiding reguleer is Theta. Hulle het tans nog net ‘n voorlopige eenheidstandaard en het vir die interim bepaal dat die CHASA jagkursus (bekend as die blou boek kursus) voorlopige erkenning geniet. Die eenheidstandaard posisioneer die jagopleiding as ‘n NQF vlak vier kwalifikasie op dieselfde vlak as matriek. Theta is tans besig met ‘n proses om die eenheidstandaard amptelik te maak. Hierdie proses sal na verwagting meer as twee jaar duur. Wanneer dít uiteindelik gedoen is, moet jagtersverenigings by Theta akkrediteer as opleidingsinstansies en die jagkursus moet geakkrediteer word as voldoenend aan die eenheidstandaard. Dan reik Theta sertifikate van erkenning uit waaroor alle toegewyde jagters uiteindelik móét beskik. Jagters wat die voorlopige kursus gedoen het, sal dan geasseseer moet word. Beteken dit die aflê van ‘n hereksamen? Nee. Jagtersverenigings het met Theta onderhandel dat dit nie nodig sal wees nie. Mits die jagter ‘n portefeulje van bewyse voorlê wat die assessor van sy of haar ‘jagvaardigheid’ sal oortuig. Die opoleidingsindustrie noem dit erkenning van leer, oftewel ‘Recognition of Prior Learning’. CHASA beoog om hierdie bewyse námens die jagter in te dien en gebruik daarom ‘n aansoekvorm waarop die vrae só gekies is dat die nodige bewyse versamel vir ‘n suksesvolle asseseering. Toegewyde status word aan ‘n lid verskaf in die vorm van ‘n beëdigde verklaring wat deur die Voorsitter van die jagtersvereniging uitgereik word. Hierdie verklaring is die wettige dokument wat die lid gebruik tydens die vuurwapenlisensieëringsproses. Die beëdigde verklaring is ‘n tydlose dokument en bly van krag solank as wat die lid voldoen aan die toelatingsvereistes. By gebrek aan voldoening van hierdie vereistes sal die lid sy of haar status as Toegewyde Jagter verloor en die jagtersvereniging moet dan ingevolge Regulasie 4(2) die gediskwalifiseerde lid se besonderhede aan die SAPD deurgee. 'n Jagter wat aan meer as een vereniging behoort sal dus wys wees om net by één om Toegewyde Jagter-status aansoek te doen. Want sou hy ophou om 'n lid by een te wees, sal dáárdie vereniging hom moet diskwalifiseer by die CFR. Die CFR sal dan met die gediskwalifiseerde korrespondeer en aan hom dertig dae gee om sy posisie te verduidelik of om te voldoen aan die vereistes. En in ‘n omgewing waar die owerhede se administratiewe vermoëns tot die uiterste getoets gaan word, is dít nou nie juis ‘n gewenste posisie vir jagters om in te wees nie. SA Wild en Jag sal in volgende maand se uitgawe breedvoerig verduidelik hoe ‘n jagter te werk behooort te gaan om ‘n model vuurwapenlisensie-aansoek en motivering voor te berei. |