Ons
staan aan die begin van ‘n nuwe jaar en dit
is daarom miskien goed om net weer die bestaansreg
van jagtersverenigings onder die vergrootglas te plaas.
Die vraag wat ons moet aanspreek is wat jagtersverenigings
vir die individuele lid beteken. Gaan dit oor die
reg om vuurwapens te besit? Gaan dit oor opleiding?
Gaan dit oor jaggeleenthede wat die vereniging beding?
Gaan dit oor skietdae wat aangebied word? Gaan dit
oor erkenning aan lede deur toekennings wat gemaak
word? Gaan dit oor jagklub vergaderings waar relevante
onderwerpe bespreek word en die sosiale interaksie
wat daarmee saamgaan? Sekerlik is die bostaande tot
‘n mindere of meerdere mate waar vir lede, afhangende
van belangstelling en behoeftes. Maar is dit al waaroor
dit gaan?
Die vraag wat ek graag wil vra is of
ons altyd die groter prentjie sien en verstaan. In hierdie
prentjie is dit nie altyd moontlik om die waarde van
dit wat gedoen word tasbaar vir die lid beskikbaar te
stel nie. Hierdie prentjie gaan oor die werk wat gedoen
word om die toekoms van jag te verseker. Hier gaan dit
oor baie ure en baie geld wat belê word om meningsvormers
en beleidmakers te beïnvloed. Hier gaan dit oor
die onbaatsugtige diens wat u verteenwoordigers lewer
om seker te maak dat die nageslag ook die reg sal hê
om die Skepping te geniet soos wat ons dit geniet. Elkeen
van die aktiwiteite waarby jagtersverenigings betrokke
is waarna in die eerste paragraaf verwys word, is belangrike
boustene om die toekoms van jag te verseker. Sekerlik
moet ons wapens hê, Ons kan nie werklik doeltreffend
en eties jag sonder die nodige kennis en vaardighede
wat deur opleiding aan ons oorgedra word nie. Dit is
ook waar dat byeenkomste en sosiale interaksie nodig
en lekker is. Ons moet egter verstaan dat dit alleen
nie die wa deur die drif sal trek nie.
Alhoewel daar geen twyfel is oor die
bestaanreg van jag nie, moet nie die teenstanders onderskat
nie. Die minder sigbare gedeelte van die werk wat u
vereniging doen, vind op twee vlakke plaas. CHASA vervul
nasionaal ‘n rol om wetgewing en beleid te beïnvloed.
Daar verteenwoordig ons (tesame met SA Jagters) die
jagters van Suid Afrika. Op die forums wat geskep is,
word die saak van jag gestel en word daar gewerk om
die gunstigste moontlike wetlike en beleidsraamwerk
vir jag te beding. Alhoewel ons dit nie direk kan verdiskonteer
aan individuele lede nie, moet elke lid besef dat hierdie
insette nog meer belangrik is as die direkte voordele
wat lede verkry uit hul lidmaatskap.
Die tweede vlak waarop CHASA werk,
is die daarstelling van ‘n internasionale magsblok
van jagters. Bande word opgebou met internasionale jagtersorganisasies
met die doel om nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal
strukture in plek te plaas om die toekoms van jag te
verseker. Afrika in die algemeen en Suid Afrika spesifiek
is ‘n gewilde bestemming vir oorsese jagters.
Dit is daarom belagrik vir die internasionale jaggemeenskap
om insette te lewer om Afrika en Suid Afrika vriendelike
jagbestemmings te maak. U vereniging is deel van die
proses om internasionale ondersteuning vir jag in Suid
Afika te verseker.
Wanneer u dus wonder oor die voordele
om aan ‘n jagtersvereniging te behoort, kyk ook
na die groter prentjie. Hoe meer lede ons het, hoe sterker
is ons stem en hoe groter is ons hulpbronbasis om u
te verteenwoordig.
Lekker jag in 2008!!.
|