| DIE JAGTER
AS BEWAARDER
Afhangende vanuit watter hoek jy daarna
kyk, word die jagter of as “vernietiger”
van die omgewing voorgehou of as iemand wat ‘n
“belangrike” (selfs “kritiese”)
rol speel as bewaarder van die omgewing. Hierdie debat
(dit kan selfs as ‘n konflik voorgehou word) is
een van die belangrike debatte van ons tyd en verdien
bepaald meer aandag.
Onlangs by ‘n CHASA Raadsvergadering
het die organisasie homself verbind tot die konsep van
“Blou aarde” waarin die jagter as ‘n
bewaarder voorgestel word en dat hierdie konsep die
ideologiese grondslag moet verskaf vir die bevordering
van die beeld van die jagter en om ook ‘n trust
hiervoor in die lewe te roep. Dit is veral om ‘n
ideologiese teenvoeter te vind vir die Groenbeweging
en sy aktiwiteite wat wêreldwyd besig is om toe
te neem en in momentum op te bou. Die Groenes bedreig
nie net die beeld van die jagter as bewaarder nie, maar
is ook regstreeks of onregstreeks deel van die kontensieuse
gesprek oor wapens en wapenbesit wat baie jagters wêreldwyd
rooi onder die boordjie het. Ten einde die debat (konflik)
in oënskou te neem, moet ‘n rekonstruksie
van die Groendenke eers gemaak word.
- Die Groenperspektief
Die organisasie “Greenpeace”
is ‘n niewinsgewende organisasie met ‘n
teenwoordigheid in 40 state in Europa, die Amerikas,
Asia en die Stille Oseaangebied. Greenpeace het tydens
1971 in Kanada ontstaan en funksioneer sonder staats-
en regeringsfondse terwyl die organisasie staatmaak
op die ondersteuning van individue en nie-staatsorganisasies.
Navorsing, “lobbying”, stille diplomasie
en hoë profiel nie-gewelddadige konflik word as
strategie aangewend deur Greenpeace (en sy 2,8 miljoen
ondersteuners) ten einde die bio-diversiteit van die
aarde te beskerm met spesifieke fokus op sake soos:
- Aksies teen klimaatsverandering.
- Die beskerming van oseane en (reën) woude.
- Die bevordering van volhoubare handel.
- Aktiwiteite word geïnisieer teen:
** Walvisjag (Dit was onlangs in die nuus).
** Kernkrag en wat hiermee saamgaan.
** Toksiese chemikalieë.
Die Groenbeweging se filosofie word goed
saamgevat met die volgende stelling:
“When the last tree is cut, the
last river poisoned, and the last fish dead, we will
discover we can’t eat money...”
Daar bestaan by my min twyfel dat daar
ook bepaalde meriete in bogenoemde perspektief bestaan
en dat so ‘n organisasie ‘n plek het wat
(as ons jagters eerlik wil wees) vorentoe net kan versterk.
Bykans almal is vandag bewus van klimaatsverandering,
die uitwissing van spesies oorbevolking en talle ander
“groen sake”. Die simpatie wat bestaan vir
die Groenbeweging en hul inisiatiewe hang ook ten nouste
saam met die beskouings wat bestaan oor menseregte en
die filosofie van leef en laat leef.
Hierteenoor het die Jagter oor talle eeue
heen die beeld ontwikkel van die “gewelddadige
omgewingsplunderaar” wat bydra tot die vernietiging
van die “Groen aarde” en wat alles daarmee
geassosieer word. Een van die grootste uitdagings van
die georganiseerde jagindustrie is dan ook om hierdie
beeld te besweer en in die regte perspektief te plaas
– ‘n poging wat dikwels afgemaak word as
pogings van die “gun lobby” om hul voorregte
tot omgewingsvernietiging in stand te hou. Dit vorm
dan die agtergrond vir CHASA se inisiatief om die “Blue
Earth” konsep van stapel te stuur ten einde die
beeld van die jagter as bewaarder te bevorder. Hierdie
perspektief, voorgehou as die Blou perspektief, het
raakpunte met dié van die Groen-perspektief,
maar verskil ook in belangrike opsigte.
- Die Blouperspektief
Die Blouperspektief (soos wat die geval
is met die groen-perspektief),
ondersteun die gedagte van bewaring. Alle organisasies
van CHASA, asook diegene met wie daar ooreenkomste is
binne die groter jagindustrie, is verbind tot omgewingsbewaring.
Die basiese filosofie is dat jaggeleenthede een van
die uitkomstes van goeie bewaring is en die feit dat
daar gejag word, maak die wildbedryf ekonomies volhoubaar
wat die voortbestaan hiervan verseker. Hierdie beskouing
berus op ‘n aantal veronderstellings naamlik:
- Volhoubaarheid is slegs moontlik wanneer dit ook
ekonomies verseker kan word. (Kommersialisering is
‘n voorvereiste vir volhoubaarheid).
- Dit gaan oor volhoubare ontwikkeling waarin die
jagter en die groter jagindustrie belangrike skakels
in die groter waardeketting is.
- Die jagter ‘n belangrike rol kan en moet speel
om kritiese balanse tussen mens en natuur te verseker.
- Jagaktiwiteite een van die belangrikste waarborge
is vir die voortbestaan van wildlewe binne die natuur.
- Met groeiende bevolkingsgetalle in groot dele van
die wêreld, patrone van onstabiliteit en klimaatsverandering
(om net enkele sake te noem), is die natuur toenemend
onder bedreiging en moet daar telkens na nuwe ekonomiese
wyses gesoek word in belang van mensontwikkeling en
oorlewing. Die wildbedryf en aanverwante sektore bevorder
nie net alleen eko-toerisme nie, maar in samehang
met jagtersaktiwiteite verseker ‘n bron van
inkomste wat nie net werkgeleenthede verseker nie,
maar ook investering in die natuur en wildbedryf bevorder
wat op sy beurt weer bydra tot volhoubaarheid. Hierdeur
lewer die jagbedryf ‘n bydrae om aan talle mense
‘n ekonomiese heenkome te bied – heel
dikwels met geld vanaf die ryk Noordelike halfrond
van die wêreld.
- Teen die agtergrond van bogenoemde perspektief is
die jagter en die jagindustrie ‘n ekonomiese
bron wat ontsluit moet word, nie net in belang van
die natuur en natuurlewe nie, maar ook in terme van
volhoubare sosiale ontwikkeling. Die jagter word sodoende
‘n belangrike skakel in die waarde ketting wat
daartoe bydra dat mens en dier in harmonie met mekaar
kan saamleef. Anders as die konflikmodel van die Groenbewegings,
laat die Blouperspektief dus ruimte vir balans deurdat
die natuur enersyds beskerm en bewaar word, maar dat
daar terselfdertyd vanuit hierdie bewaringspraktyk
patrone van sosiale ontwikkeling en ekonomiese volhoubaarheid
bevorder word. Kortom, die jagbedryf word ‘n
instrument vir mensontwikkeling!
- Die jagter kan ook verder ‘n belangrike rol
speel om kritiese balanse tussen mens en die natuur
te verseker veral waar daar oorbevolking navore kom
soos wat tans die geval is met die Olifantbevolking
in Suider Afrika. Die argument is dus gewoon dat hierdie
oorbevolking deur oordeelkundige jagpraktyke ‘n
belangrike bron van inkomste is (dus bydra tot ekonomiese
volhoubaarheid) wat aanwendbaar is vir sosiale- en
mens ontwikkeling in baie gebiede wat ekonomies en
andersins swaarkry. Jagaktiwiteite kan dus gesien
word as ‘n belangrike instrument om sosiale
en ekonomiese opheffing te bewerkstellig en by te
dra tot regeringsteikens (byvoorbeeld ASGISA teikens)
ten opsigte van werkverskaffing en ekonomiese groei
wat in die vooruitsig gestel word.
- Vanuit bogenoemde volg dit dat die aktiwiteite van
die Jagindustrie ‘n belangrike waarborg is vir
die voortbestaan van wildlewe binne die natuur maar
ook mensontwikkeling in die algemeen. Die vraag is
eenvoudig: Het die kommersialisering van die wildbedryf
die afgelope dekades bygedra tot wildgetalle en natuurbewaring
in die algemeen, of nie? Die antwoord is myns insiens
voor die hand liggend naamlik die bydrae is ongekend,
maar kan met goeie bestuurspraktyke verder verbeter
word om ‘n nog groter bydrae tot volhoubare
ontwikkeling te lewer.
Dit is egter van kernbelang dat die jagbedryf en groter
industrieë hul beeld be-
vorder deur meer klem te lê op die toepassing
van etiese jagpraktyke. Slegs dan sal daar werklik ‘n
behoorlike teenvoeter gevind kan word vir die groeiende
inisiatief van die Groenbewegings. Alle jagters en ander
lede van die bedryf het ‘n plig en verantwoordelikheid
om die Blouperspektief wêreldwyd te laat inslag
vind.
Die “Blou-aarde” inisiatief
van CHASA waarin “volhoubare benutting”
vooropgestel word, verdien die ondersteuning van elke
organisasie binne die Jagindustrie en is definitief
‘n voorwaarste stap.
Laat die jagters van Suid Afrika daarvan werk maak om
in ooreenstemming met die Blouperspektief die natuur
so aan te wend dat mens, dier en plant maksimaal hierdeur
bevoordeel word.
Prof Andre Duvenhage
Navorsingdirekteur
Fokusarea 7.2 : Volhoubare Sosiale Ontwikkeling
Noordwes Universiteit
Potchefstroom
2520
Tel: 018 299 1750
Faks: 018 299 1776
E-pos: Andre.Duvenhage@nwu.ac.za
|