CHASA ondersteun die ideaal dat wilde diere en ander vorme van biodiversiteit bewaar word en waar nodig bestuur word in hul natuurlike omgewing in ooreenstemming met natuurlike prosesse.

CHASA aanvaar die realiteit dat ongerepte natuurlike areas skaars is as gevolg van aanhoudende ontwikkeling wat lei tot verstedeliking, asook as gevolg van toenemende landbou aktiwiteite wat daarop gerig is om die mens se behoeftes aan skuiling en voedsel te bevredig.

CHASA onderskryf Volhoubare Hulpbronbenutting as ‘n gesonde bewarings beginsel.

CHASA onderskryf die Nasionale Bewaring Strategie van Suid Afrika wat ‘n uitvloeisel is van die regering se ondertekening van die IUCN se Wêreld Bewaring Strategie en glo dat verantwoordelike en volhoubare wild boerdery en -benutting konstruktief kan bydra tot die bewaring van biodiversiteit.

CHASA gee erkenning daaraan dat verskillende stelsels van grondgebruik oor tyd in Suid Afrika ontwikkel het, beide op staatsgrond en op privaat grond. CHASA aanvaar dat hierdie stelsels deur verskillende doelwitte gedryf word, maar aanvaar dat beide die wildplase en bewaringsgebiede grootliks kan bydra tot die bewaring van biodiversiteit.

CHASA erken die reg van die grondeienaar wat verkies om met wilde diere eerder as gewone mak diere of plante te boer, om ‘n lewe te maak uit hul grond en aanvaar daarom dat die grondeienaar ‘n wins moet maak (as ‘n noodsaaklike deel van volhoubaarheid) uit die gekose boerdery aktiwiteite. Hierdie praktyk word erken as die bron van die grootste hoeveelheid wild wat vir jag beskikbaar gestel word in Suid Afrika.

CHASA gee erkenning daaraan dat wildplase ‘n groter bydrae lewer tot die bewaring van biodiversiteit as tradisionele vee- of saaiplase. Hierdie wildboere moet egter nie, bo en behalwe hul verantwoordelikhede ten opsigte van volhoubaarheid en lewensvatbaarheid, ‘n groter bewarings verantwoordelikheid dra as ‘n vee- of saaiboer nie. Regulasies en beperkings wat op wildboere van toepassing is, moet billik wees en beperk word tot maatreëls om te verseker dat hul aktiwiteite nie ‘n bedreiging inhou vir vrylopende of aangrensende wild populasies of hul habitat nie.  

Alhoewel die hoeksteen van ons wildbedryf jag deur billike agtervolging is, aanvaar CHASA dat wild populasies bestuur moet word en dat daarom ook ander atiwiteite plaasvind soos die oes van wild en bestryding van probleemdiere. Al hierdie aktiwiteite het ‘n plek binne die wildbedryf en CHASA sal die belange beskerm van lede wat by sodanige aktiwiteite betrokke is.

CHASA beskerm en bevorder die tradisies en romantiek van jag. Daarom moedig CHASA alle jagters aan om die persoonlike genoegdoening te beleef van jag deur billike agtervolging soos omskryf in CHASA se Beleid oor Billike Agtervolging. Hierdie wyse van jag word vereis wanneer dit ten doel het om ‘n trofee te bekom of om ‘n trofee in te skryf in ons SA Rekordboek. Indien ‘n dier gejag word op ‘n wyse wat nie aan hierdie standaard voldoen nie, sal dit slegs beskou word as ‘n bestuursjag vir eie of ander gebruik.

Met die bostaande in gedagte, neem CHASA soos volg standpunt in:

1) CHASA is gekant teen die teel van kruisings en ontmoedig sy eie lede, maar ook jagters in die algemeen, om nie sodanige diere te jag en daardeur ‘n aanvraag vir die diere te skep nie.

2) CHASA veroordeel die praktyk van “put and take” jagte waar diere so kort na translokasie gejag word dat hulle nog nie aangepas het by hul nuwe omgewing nie.

3) CHASA sal enige teelpraktyk veroordeel waar behoorlike wetenskaplike inligting aandui dat sodanige praktyk skadelik is vir bestaande meta populasies en/of biodiversiteit.

4) CHASA aanvaar die realiteit dat die natuur dinamies van aard is en dat daar konstante veranderings voorkom in die demografie van wilde diere, dat wild oor ‘n natuurlike verspreidingspotensiaal beskik en verder dat meeste gedomestikeerde en sommige wilde spesies wat tans op plase in Suid Afrika voorkom, uitheems van oorsprong is.